Life is either a daring adventure or nothing.

Saturday, November 26, 2011

Sjoe wat 'n maand!

Ja jong, ek moes nou een maal te veel hoor hoekom die blog so lanklaas aksie gesien het...so, nou neem ek gou 5 minute om almal gou op hoogte te bring van die doen en late van die 4 Oliviere!

Novembermaand....'n maand vol dinge hoor!  Waar om te begin?  Nou ja, gewoonlik vra 'n mens mos, goeie nuus of slegte nuus eerste?  Ek sal maar begin met die goeie nuus!

Ons is veilig in Port Macquarie!  Die groot trek het goed gegaan.  Ons trek is met 'n week vervroeg aangesien die werk hierdie kant vir Etienne vroeër op die projek wil hê.  Toe is daar natuurlik in der haas (het net 'n week gehad) gepak, goodbye's gesê en al daardie dingetjies.  Maar ten eindelaas het alles darem in plek geval.

Ons het begin November Port Macquarie (http://en.wikipedia.org/wiki/Port_Macquarie) toe gekom om - soos hulle sê - die kat uit die boom uit te kyk!  Ons het kom "house hunting" doen wat toe op die ou einde van die dag geslaagd was en kon ons darem vir die kinders vertel, ons het 'n nuwe huis by die see!

Ek sal op 'n latere geleentheid bietjie meer vertel van ons huis en ook bietjie fotos by sit.  Natuurlik speel die weer nou nie saam nie...ons het heelpad van Wagga tot hier in reën gery en vandat ons Woensdag (23 November 2011) hier in Port Macquarie aangeland het, reën dit nog eenstryd!

Nou vir die slegte nuus!!  Ja, die 4 Oliviere was "Victims of crime" hier Down Under!  Ek het van die begin af geweet om hier in 'n ander land te sit vrywaar jou nie van sekere dinge nie - en daar het ek meerendeels aan emosionele dinge soos verlange ens. gedink.  Maar ja, toe kom wys die Aussies ons iets anders! 

Terwyl ons vir ons "look-see-decide" trippie in Port Macquarie is, dra hulle toe mos ons huis leeg in Wagga!  Dit was die Dinsdagoggend (8 November) wat ek 'n oproep van ons buurman in Wagga kry.  Hy noem toe dat ons garagedeur oopstaan asook die sykant hekkie en die shed.  Ek vra hom toe om om die huis te loop en te kyk of die skuifdeur nog toe is....nee sê hy, dis oop en hy kan sien daar was ingebreek en goed gesteel.  Nou ja, toe bel ek ons agent deur wie ons die huis huur en sy bel toe die polisie.  Dit is nou glad nie die nuus wat jy wil hê as jy oor die 900km van die huis af is nie!!  So terloops dink ek toe aan die kar, en ek bel my buurman terug....Nee, hy dog toe ons is weg met die kar!!!  Ons het met Etienne se werksvoertuig gekom want Etienne moes 'n draai kom gooi hier op site en die petrol is op die company se rekening (wie sal dan nie met die werksvoertuig ry nie...!!).  Jong, toe ek hoor die kar is weg, toe knak my knieë sommer so onder my in!  Daar laai die gemors toe ons kar tjok-en-blok vol van ons goed en ry weg!  Ons het die karsleutels by ons maar die spaarsleutels was so goed weggesteek in die huis dat Etienne nie eers geweet het waar dit is nie...maar hulle het ons kamer behoorlik omgekeer...elke laai, elke kas, elke papiertjie...en toe natuurlik op die spaarsleutels afgekom...die"gemors" kon seker nie hulle luck glo nie!

Nou ja, lang storie kort.... vandag sit ons sonder 'n kar (wag nog vir versekering om uit te betaal - aangesien die kar nog nie terug gevind is nie, moet daar 'n ondersoek plaasvind ens.) - en al ons elektroniese toerusting soos die tv, amp, speakers, xbox, projector, sub, kameras (gelukkig het ek my kamera en video kamera by ons gehad).  Al Etienne se horlosies - my juwele en nou nie juis in die diewe se smaak geval nie want alles was nog daar!  Etienne se mountainbike ook. 

Die polisie kon geen vinger/voet afdrukke kry nie.  Hulle het deur die toiletvenster gekom, en nie eers waar hulle op die toilet moes trap om in te kom, kon die polisie eers 'n voetprint kry nie.  Die polisie reken dit is 'n bende van Sydney wat kom amok maak en dan die goed weer gaan verpand in Sydney.  Daar was 'n magdom inbrake die afgelope rukkie in Wagga en almal in die uitbreiding waar ons gebly het!  Nou ja, al daardie lekker goed soos die tv ens kan 'n mens nog sonder, maar dit is nogals 'n gemors sonder die kar!  Ons sou apart gery het Port Macquarie toe - Etienne sou vooruit gery het om die sleutel by die agente op tel en ek sou saam met die treklorrie gery het nadat ek die huis in Wagga gesluit en die sleutels afgegee het.  Toe ry ons saam, deur die nag en stop die volgende oggend toe in Port M.

So daar is ons hele storie vanaf huis vind in Port Macquarie tot 'n baie deurmekaar tyd en totsiens van Wagga Wagga waar ons sedert ons aankoms in Australie goed ingesettle het en gelukkig was.  Net jammer ons moes ons verblyf in Wagga op so onaangename manier afsluit.

Hoe is hierdie vir Murphy's Law....terwyl ek nou hier sit en gesels, lui Etienne se foon!  Die polisie in Wagga het ons kar gekry....uitgebrand op 'n verlate pad - in 'n slegte uitbreiding!  Nou ja, nou is ons nog verantwoordelik vir die kostes verbonde aan die kar wegsleep ens.  Maar soos hulle sê elke wolk het 'n goue randjie....met die nuus het die reën vir eers hier in Port Macquarie opgehou en die son het so bietjie deurgebreek! 

So heel moontlik as die weer heeltemal opklaar gaan ons later so bietjie op die strand gaan loop!

Nou ja, fluit fluit my storie is vir eers uit...tot volgende keer...mooi bly!