Life is either a daring adventure or nothing.

Monday, March 19, 2012

Sondagmiddag vermaak!

Nadat ons die oggend weer bietjie op die strand spandeer het, het ons terug gekom en Etienne het solank die vuur aangesteek vir 'n heerlike braai...hhhmmmm.....


Instussen het ons die kinders bietjie vermaak met 'n vergrootglas.  Etienne onthou as kind hoeveel tyd hy spandeer het met 'n vergrootglas en toe so bietjie vir die kinders gewys hoe 'n vergrootglas werk.






Daarna het ons bietjie "magic tricks" gedoen, tot groot vermaak van die kinders en groot gelag vir my en Etienne.  Natuurlik moes ons die "magic hat" en die "magic wand" ook nader trek.  Ons magci trick was natuurlik met eiers...(ek het eers gesorg dat my en Etienne se eiers "behandel" is voor ons die magic tricks gedoen het)!



Daddy's beurt vir sy magic trick



Mamma se beurt...



En nou die kids...



Sit en ontspan bietjie en Bianca wys bietjie hoe lief sy vir haar Daddy is..



'n Lekker middag vol lag en saam wees.

Bianca se 1ste haarsny

Bianca het haar eerste haarsny gehad....tot haar ouers se grootste skok!  Ja, ja, sy en haar stoutgat boetie het besluit dis haarsny tyd!  Was ons darem geskok en sommer op die daad kwaad toe ons uitvind waarmee die twee karnallies besig is!

Ag genade tog...die prinsessie se mooiste lokkies lê sommer so ewe in die asblik ingedruk en nou is haar kapsel vol happe gesny!  Nie te veel skade aangerig nie maar tog...en Ruan spog ook met hele paar happe in sy kapsel!







Nou ja, daar en dan het ons die twee ywerige haarkapsters goed laat verstaan dit was verkeerd en Ruan het sy voorreg om met sy skêr te werk vir so 'n paar dae verloor.  Na die ergste skok verdwyn het, kon ek nie help om die komies ook van hierdie gebeurtenis in te sien nie!

Dat onse ou meisiekind se eerste haarsny nou so moes gebeur....

Full Moon

Met hierdie maand se vol maan het ons bietjie gaan kyk hoe mooi lyk die mooi vol maan skyn oor die see...in die flieks wys hulle mos altyd hierdie helder lig wat skyn oor die see as dit vol maan is, en ons wou dit ook beleef.

Kinders sommer al klaar hulle nagklere aan met hulle kombersies en ek en Etienne met 'n beker koffie elk, het ons na "Town beach" toe gery - wat redelik hoog is en ons mooi kon sien.

Dit was nou 'n lekker uitstappie - so bietjie iets anders as die normale aand!  Die kinders het dit ook geniet.  Dit was regtig spesiaal om dit te kon beleef, al het die fotos nou nie juis die regte prentjie kon vas lê nie.




Monday, March 5, 2012

Great Moscow Circus


Saterdag 25 Februarie het ons die kinders bietjie sirkus toe geneem!  Sjoe, wat 'n opgewondenheid was dit nie...en dan sluit dit sommer vir my en Etienne ook in.  Die hele week het ons die kinders al opgewerk oor hierdie sirkus wat hier is...het sommer so 'n paar draai verby die sirkus tente gaan ry en dan vir hulle gesê ons gaan na die sirkus toe kom!  Ek het ook vir hulle oulike inkleur prente geprint oor die sirkus wat hulle ook goed besig gehou het.

En wat 'n sirkus was dit nie!  Sjoe, hier kan ek net sê..."job well done"...dit was nou een hengse lekker sirkus!  O ja, dis die Great Moscow Circus (http://www.moscowcircus.com.au/) wat tans deur die land toer.


Etienne het ons bederf met lekker popcorn en spookasem vir die kinders - kyk, geen sirkus is 'n sirkus sonder spookasem nie!







Bianca raak opgewonde oor die ponies!





Ai, die gesiggie sê sommer..."We're having fun!"


Die "Human canonball" was nogals 'n hoogte punt van die show wat heelwat geadverteer was.  Etienne het so mooi reg gesit met die kamera maar ai, dit het so vinnig gebeur dat ons die "skoot" gemis het. 



Trampolien

Die hoogte punt natuurlik was toe die hanswors vir Etienne verhoog toe trek!  Ag genade, dink ek toe...en ek is seker 'n dubbele ag genade het deur Etienne se kop gegaan.  Die Olivier is mos nou nie vir voor mense optree nie, maar ai ai vir wat 'n lag het hierdie Meneer Olivier nie gesorg nie...10/10 hoor!  Hulle was 4 mense en hy was die laaste in die ry.  Hulle moes sulke snaakse/moeilike danspassies uitvoer...die hanswors staan kwansuis met 'n fluitjie en elke keer as iemand iets verkeerd doen is dit blaas blaas blaas op die fluitjie!  Tot groot genot van die skare!  Maar Etienne was briljant hoor....hy moes die wurm dans doen op sy maag...waar hy op die grond soos 'n wurm seil maar vinnig op die maat van muskiek en dan ook so hop op sy boude - voorafgaande met 'n paar hoppe en skoppe!!  Dit was so snaaks dat toe Etienne klaar is die hanswors heerlik handeklap en sommer so een twee drie op Etienne se heupe spring met sy bene om Etienne se middel - tipies soos 'n kind op 'n ma se lyf sal spring! 


Die hanswors demonstreer Etienne se "moves" vir hom





Daarna moes hulle in 'n groepie op stoele gaan sit en toe is die stoele een vir een onder hulle uitgetrek.  Dan het hulle so bly hang in die lug.





Die kinders het dit nou vreeslik geniet dat hul Daddy so deel van die sirkus was!


Die dekor en kostuums van die mense was baie goed - natuurlik het Etienne oor tot oor geglimlag oor die meisies se kostuums.  Elke keer wanneer daar 'n meisie met 'n nuwe kostuum uit kom, gryp hy die kamera en begin fotos neem...ek spot so en sê ja jong, tipies man!!  Waarop hy antwoord ek het dan kwansuis vir hom gesê hy moet onthou om ook fotos te neem! 




Verder was daar vreeslike goeie opvoerings en die hansworse het ook gesorg vir 'n lag!






Defnitief 'n sirkus wat ek weer sal besoek!