Life is either a daring adventure or nothing.

Thursday, February 16, 2012

Bianca Ballerina


Bianca is baie lief vir dans en sy is baie lief vir pienk en sy is baie lief vir "dress-up" - sit al haar gunsteling goed saam en wat kry jy...ja...'n ballerina!


Sy het begin met ballet - Twinkle Toes - soos die kleuter ballet genoem word.  Sy was vreeslik opgewonde daaroor, spesiaal ook omdat ons vir haar 'n pienk rok en skoene gekry het spesiaal vir haar ballet klas!

Jong, en sy kan babbel en opgewonde raak oor iets, so nou moet jul weet, ek moes elke 5 minute hoor, sy gaan dans...en na die klas moet ek elke 5 minute hoor sy wil gaan dans!

Ek het 'n paar fotos geneem van haar eerste ballet klas en ook 'n paar video clips. 











En tipies in Bianca se aard het sy dadelik met die maatjies ingeskakel, so asof sy hulle al 'n rukkie lank ken.


En punt die tone...

Reach for the stars...

Die gesiggie sê alles!








Praat van hang aan iemand se lippe!

Daarsy, nou om deur hierdie week te kom tot volgende week se dansklas!  Ek is net so bly Bianca geniet haar dans - hopelik is dit die begin van 'n heerlike avontuur vir haar!



Monday, February 13, 2012

Bianca se 1ste skooldag


Vandag begin Bianca ook met haar skool....nou wel net kleuterskool maar vir haar is dit GROOT skool hoor!  Sy is vreeslik opgewonde oor skool toe gaan en met maatjies gaan speel.



Ons het ook vir haar 'n nuwe skoolsak gekry met kosblik en waterbottel - kyk dis mos nou nie elke dag dat jy vir die eerste keer skool toe gaan nie of hoe!


My Gogga-bom en Poppelops, reg vir skool!



Bianca gaan vir eers net 1 dag 'n week skool toe gaan - die kleuterskole hier is vrek duur.  Die skool waar sy is, Fernhill Road Preschool (http://www.portmacquariechildcare.com.au/fernhill.html) is baie oulik met 'n heerlike klas vir kleuters - Bianca het sommer dadelik ingeval by die kombuisie - een van haar gunsteling aktiwiteite. 


Bianca voor haar klaskamer

Die klasmaats se name vir hul hokkies

Bianca sit haar naam vas in haar hokkie

Bianca se hokkie met haar sak




Daar is ook 'n heerlike leeshoekie waar die juffrou vir hulle sit en stories lees.



Die buite speel area is ook heerlik toegerus met iets vir elkeen....van fietsies tot klimraam en sandput.  



Daar is tot 'n groentetuin en ook 'n dieretuin...die dieretuin nou wel net afbeelde van diere maar baie interessant vir die kinders.





Bianca het sommer dadelik ingeval en begin speel.  Ja, sy laat nie op haar wag nie, en toe ek weer kyk het sy sommer al klaar met 'n maatjie begin speel en gesels.





Ek weet sommer Bianca gaan haar skool geniet!  My ou meisiekind wat nou so groot raak...ek sal maar moet begin soek na daardie skilpad waarvan die ou mense altyd gepraat het...hoe gaan daardie spreekwoord...as 'n kind te vinnig groei, sit 'n skilpad op sy kop dan groei hy stadiger...!  En Etienne sal moet begin spaar vir daardie haelgeweer wat hy sal moet aanskaf!

Tuesday, February 7, 2012

Wilde Koala

Kyk, as daar nou 'n prys was vir die eerste Olivier wat 'n wilde Koala raak sien, dan het ek nou daardie prys gewen!  Ek kan nou spog met die prestasie!

Maar ek moet sê ek was baie gelukkig om hom raak te sien hoor.  Glad nie verwag nie, glad nie eers daaraan gedink nie...jy weet mos hoe dit gaan - amper soos in die Wildtuin waar jy jou oë seer kyk na 'n leeu of luiperd...nou ja, hier in Aussie land is die Koala seker maar soos die Afrika leeu...jy kyk jou oë seer tot jy dan maar moed opgee...

Ek het vanmiddag met die wa geloop om vir Ruan by die skool te gaan haal.  Oppad terug is dit al geselsende aan die loop en iets sê net vir my ....kyk op!  En wraggies....daar in die mik van die boom sit die meneer en droom...altans ek dink dis 'n meneer...!

Ek kry toe dadelik my foon uit om met die 'n foto of twee te neem...ek meen ek moet darem bewyse hê anders gaan niemand my glo nie!  Daar word die mistertjie wakker en is toe baie nuuskierig met ons doen en late.  Die kinders was van....Oe, look a koala...en dit was dit...toe het Ruan met stokke begin speel.  Wat natuurlik vir die koala baie indrukwekkend was want hy het bly kyk wat Ruan doen.  Was seker vir hom net so baie opwinding soos dit vir ons -of my altans - was!

Hier is 'n paar fotos wat ek met my foon geneem het - ek het gemerk hoe naby aan die pad hy eintlik was!



 



Friday, February 3, 2012

Ruan se 1ste skooldag

En toe breek hierdie dag ook aan vir ons...'n dag waarna 'n mens partykeer uitsien en dan hoe nader die dag kom, hoe minder sien jy daarna uit en begin jou hartklop sommer te versnel...altans, vir hierdie mamma was dit die geval!

My grootman Ruan se eerste skooldag het aangebreek....nie sommer net kleuterskool of soos ons dit hier ken Preschool nie...nee...GROOT skool jong.  Uniform, tas, kosblik, hoed...elke ding!  Vandag was Ruan se eerste Kindergarten (Kindy) dag by Hastings Public School...of soos ons mense in Suid-Afrika dit sal ken, graad 0.

Hierdie dag het met vreeslike opgewondenheid van Ruan se kant af begin.  Elke 5 minute vandat hy sy oë vanoggend oopgemaak het, wil hy weet of hy nou al sy skoolklere kan aantrek!  En elke tweede woord wat ons uit sy mond uit hoor is dat hy skool toe gaan...nou ja, dan is dit mos 'n teken die mannetjie wil skool toe gaan jong!

Na ontbyt en tandeborsel het Etienne (wat die dag verlof geneem het om hierdie spesiale dag saam met Ruan te kan deel) vir Ruan gehelp om sy skoolklere aan te trek.

Ruan se skool uniform en skoolsak


Besig om skoolklere aan te trek

En hier is sy kosblik met waterbottel.


Mamma het darem 'n interessante kosblik probeer pak...vir Recess het hy gekry...jogurt, druiwe en koekies (rice crackers) en vir lunch het hy gekry sy broodjie (snackwich), potato puffs, wortelstokkies, 'n kasie, neute, jogurt en 'n boksie smarties vir poeding.


In sy noppies het hy ewe groot meneer vir ons gepose vir 'n foto of twee met sy nuwe skool klere en skooltas - nadat hy seker gemaak het Mamma het sy "lunchbox" ingepak.
 





En natuurlik het Nella 'n boodskap vir Ruan gestuur wat hom nog meer opgewonde gemaak het dat hy skoon terug gesels het!




Daar is ons toe skool toe.




Eers gou gaan loer in watter klas Ruan is - na hul "best start interviews" om te bepaal in watter klassie hulle die gemaklikste sal aanpas, kon ons eers vanoggend uitvind in watter klas hy gaan wees.  Nou ja, oppad na klaskamer nommer 2 by Juffrou Fieldsend.  Daar is darem so 'n paar "boys" in Ruan se klas, seker iets wat hy die meeste na uitgesien het, en dis dat hy met "boys" kan gaan speel.

Etienne kyk op die lys in watter klas Ruan is

Al sy klasmaats se name buite op die deur - Juffrou Fieldsend se klas


In sy klaskamer het ons sy juffrou ontmoet en toe gou sy waterbottel en vrug vir tea-time gaan neersit, waar ons ook 'n naamkaartjie vir hom gekry het om op te sit.  Toe het ons sy skoolsak gaan ophang buite by die klaskamer.  Terug in die klas, het hy hom ewe gemaklik gaan rustig maak by 'n tafel met blokkies en speelgoed.  Nie lank daarna nie, het hy saam met 'n ander seuntjie op die grond gaan sit en karretjies speel.  Hier het ons besluit, dit is die tyd om stadig en stil ons uittog te neem.  Natuurlik was Ruan min gespin oor ons en het rustig totsiens gesê met "I love you's en hugs & kisses" en toe verder gespeel. 


Ruan hang sy skoolsak buite by sy klas op





Sy klaskamer van buite af

Eerste gesig - na skooldag!

Toe ons hom vanmiddag gaan haal was hy bly om ons alles te vertel, vreeslik met opgewondenheid...dit was 'n goeie dag!  Hy het ook 'n sertifikaat gekry om sy eerste dag van skool te onthou.  Sy juffrou het ook ons gerus gestel dat Ruan 'n heerlike dag gehad het en ook interaksie met maats gedeel het.

Juffrou Fieldsend sê Ruan het 'n heerlike dag gehad



Vir so oulaas 'n rukkie op die klimraam gaan speel en toe het ons huiswaarts gekeer - 'n vreeslike opgewonde en emosionele dag - ja ok, miskien net vir hierdie mamma - maar nogtans 'n groot dag in ons Gogga-bom se lewe!


Hhmm...'n moontlike vriendskap aan die broei?  Ons hoop so...




Toe ek later sy skoolklere help uittrek sê ek vir hom..."I love you my angel"  waarop hy toe vir my antwoord..."I'm not angel, I'm a schoolboy"!!!