Life is either a daring adventure or nothing.

Monday, November 29, 2010

Visa Granted!

Vanoggend het ons die nuus gekry dat ons visa klaar is!  Dit het 3 weke gevat - vandat dit by die DIAC (Department of Immigration and Citizenship) ingehandig is tot dit afgehandel was.

Die hele proses het nou 2,5 maande gevat. 
  • My eerste telefoniese gesprek met Leightons was op die 13de Sept. 
  • Ek het 8 weke kennis gegee op die 1ste Oktober by die werk (met 2 weke verlof einde Nov).
  • Ek het 'n hele maand gewag vanaf my telefoniese onderhoud vir die finale lywige kontrak wat ek 13 Oktober gekry het. 
  • Op 20 Oktober het Leighton's se 'migration agents' my gekontak.
  • Ook op 20 Oktober het Jacqui van Crown Relocation my gekontak met inligting oor ons trek wat hulle sal reël.
  • Ons het ons medies op die 22ste Oktober in PTA gedoen.  Dis nou net x-strale vir my en Bernadette en 'n volle ondersoek vir die kinders.
  • Die visa is Vrydag die 5de Nov ingehandig by die DIAC.
  • Crown het ons trek het die 24ste en 25ste November gedoen.
  • Maandag die 29ste Nov (vandag) is ons visa goedgekeur.
  • Ons wag nou vir vlug datums.
Ons is nou weer oppad na Bernadette se ouers vir 'n laaste oorslaap kuier.

Sunday, November 28, 2010

Water Pret...

Ons het nou na die trek hier by Etienne se ouers ingetrek vir die laaste week of wat voordat ons vlieg. 

Gister was ons eerste dag na die hele trek en huis skoonmaak wat ons bietjie kon ontspan.  Ons het 2 pakkies waterballonne gekoop en sommer lekker met die kinders gespeel.  Ouma en Nella het lekker deurgeloop onder (water) vuur!


Te fraai in my nuwe rokkie!

Koes!! Hier kom die waterballon!

Daarna is ons in die swembad in en kon ons natuurlik nou nie weer vir Ruan uitkry nie.  Dis was ook sy 1ste keer wat hy heeltemal kop onder water geduik het.  Hy het ook ontdek hy is nou net-net lank genoeg om op sy tone in die vlak kant van die swembad te loop en was baie in sy noppies daaroor!


Demmit dis lekker!!

Net voor die titanic gesink het...

Daar was nie tyd vir uitklim om te eet nie...

Die GROOT TREK!!

Sjoe, wat was die ergste...die paar dae voor die trek, die trek self, of die paar dae na die trek?

Dit was omtrent besig en stresvol - en met die kinders by die huis - omtrent doller as kop-af!  Gelukkig het die trekmense self die goed gepak in bokse in.  Maar einste aan Bernadette se aard moes alles voor die pakkery georganiseer word!  Ook goed so, want dan kan 'n mens mos sien wat moet bly, wat moet gaan en wat moet weggegooi word. En natuurlik is daar soveel reëls en regulasies oor wat mag gaan en wat nie en hoe skoon dit wat wel gaan moet wees.  Etienne het dae lank gesit op sy stoeltjie en geskrop.  Die 3 fietse alleen was 5 ure se werk - maar behalwe vir die paar skrapies wat hulle al opgedoen het met die ryery het dit sommer splinternuut gelyk.


Die mense wat ons goed trek na Down Under is Crown Relocations en sover is ons ondervinding met hulle heel positief.  Die pakkers was Woensdag, 24 November 2010 so net na middagete daar en het gewoeker met hul paktalente tot so net na 7uur die aand.  Die volgende oggend was hulle al op die kop 7uur weer voor ons deur!

Hulle het daar met so 'n trokkie aangekom wat ons gedink het..."jinne maar hoe de...gaan al ons goed in hierdie ou trokkie pas!!"...en op die ou einde was dit van..."Waar is die res van ons goed...?" want toe is al ons ou aardse goedjies net mooi in die helfte van daai ou trokkie in.

Die sitkamer in bokse...

Ons treklorrie.

So van nou af hou ons duim vas dat al ons goed ongeskonde by ons sal aankom in Wagga Wagga - hieroor sal ons iets post wanneer ons daar kom.

Kuiertjie by oupa Dawid en ouma Marina!

Die laaste ruk het maar omtrent dol gegaan hier by ons - daarom dat ons so bietjie lanklaas "gepost" het.

Ons het laasnaweek  (20 & 21 November ) in Pretoria by Bernadette se ouers gaan kuier.  Die kinders het lekker gespeel want in die agterplaas is omtrent speelplek vir 'n kind!  Van vroteier, hammer-spyker - en lekker klouter om die jungle-gym.

Hamer Spyker...

Vroteiertjie!!

Die Sondag het Owen en Jolanda deurgekom - Marli was al daar van die Vrydagaand af - en het ons so 'n paar tjoppies op die braai gegooi!  Die tjoppies en die slaaie het gesorg vir 'n lekker sondag-middag-maal!

Nig en neef.

Brawe apie...

Ouma en oupa sit op die... gras.

Ongelukkig moes ons die kuiertjie kortknip, want ons het nog baie pakwerk gehad voor die treklorrie die volgende Woensdag sou kom.

Friday, November 19, 2010

Pelgrimsrus

Met ons Sabie trippie was ons ook deur na Pelgrimsrus - spesiaal om van die "outydse fotos" te neem (sien van die fotos in die volgende post).  Was dit nou 'n gedoente - die kinders het nogal heel goed saamgewerk.  Bianca het omtrent soos 'n ou poppie uit daardie era gelyk en Ruan so trots met sy "gun"!


Die kinders het ook vir die eerste keer op 'n donkiekar gery!  Bianca was maar so eie aan haar aard bietjie skrikkerig, maar met Ma as back-up het sy dit darem ook op die kar gewaag en die rit geniet.  Ruan het die rit baie geniet en na die rit vir ou Vonnie en Maraai elkeen 'n lekker wortel gevoer om dankie te sê.

Kyk hier hoe lekker ry ons!


Vonnie en Maraai kry beloning na die rit...


Wednesday, November 17, 2010

Back in the old days...

Hierdie kon ons voorvaders gewees het...


  

Hey!! Hier's De la Rey!

Nee - dis nie 'n pop nie - dis Bianca!

Goodbye Sabie :-(

Ons het hierdie naweek wat verby is vir een van ons gunsteling plekke gaan koebaai sê - Sabie!  Daar is meer as een rede hoekom ons so verknog is aan hierdie wêreld.  Die omgewing is net asemrowend mooi - soos julle kan sien op die foto wat ons op die Longtom-pas geneem het.  Ons het 'n "pit-stop" gemaak op die Longtom-pas en 'n paar kiekies daar geneem en 'n paar snacks geeët.

4 Bobbejaantjies in die berge...

WOW! Hierdie view is blerrie AWESOME!!

En 'n ander rede is dat twee spesiale mense in Sabie bly vir wie ons gaan groet het voor ons die wye vlaktes van Australië gaan invaar.  Oom Gert en Tannie Altha wat net buite Sabie op die Brooklands Plantasie bly.  Dit is Bernadette se oom en tannie. 

Die kinders veral geniet dit vreeslik daar want daar is altyd iets om te "explore"!  Die hoogtepunt veral vir Ruan is natuurlik die perde kos gee!  As ons na die perdekamp toe ry om die perde kos te gee word daar altyd agter op die bakkie se klap gery.

Agter op die bakkie is die lekkerste!

By die perdekamp aangekom, help Ruan vir Oom Gert om die perde se kos te meng en voor te berei en dan word die kos vir die perde gegee... Bon Apetit!!!


Die kinders geniet ook om die duiwe en visse kos te gee....en bewaar Oom Gert se siel as hy in die oggend by daardie agterdeur uitgaan, sonder die twee karnallies!!

Hierdie naweek is ons weer bederf met Oom Gert se lekkkkeeerrrr potjiekos!  Kyk, dit is darem lip-aflek-lekker!  En om so om 'n pot te sit en kuier is darem 'n regte-egte Suid-Afrikaanse ervaring.


Boys will be boys...
  


Dit was 'n lekker kuier en 'n hartseer koebaai - maar ons sal gelukkig altyd die fotos en herinneringe hê!


Friday, November 12, 2010

Parkie!!!

Ruan en Bianca geniet dit vreeslik om by ons "local" parkie  te gaan speel.  Die parkie is loop afstand van die huis af en langs die dam in Aerorand.  

Hier is 'n paar fotos van ons toe ons Woensdag 10 November 2010 weer 'n bietjie gaan speel het in die parkie - hierdie keer het Ruan 'n bietjie gaan afkoel in die dam!  Was dit nou lekker - tipies seuntjie het hy eers sy "visstok" (sommer net 'n stok wat hy opgetel het) gegryp om vissies te vang!  Bianca was bietjie versigtiger vir die water - tipies weer meisietjie!  Sy het dit ingewaag, tot 'n stuk gras in die water aan haar been geraak het, toe was dit ook laaste van haar ontdekkingstog!

Ek en Etienne speel net so graag in die parkie saam met die kinders!  Nee, gelukkig waag ons dit nou nie op die klimapparaat nie - glo nie ons versekering sal sulke "ongelukkies" dek nie, dis nou te sê as daar 'n ongeluk of twee sou plaasvind!  Ons gryp sommer die frisbee en dan kry ons ook darem so 'n bietjie oefening in terwyl die kinders klim en klouter.

Dit is lekker om so 'n parkie naby die huis te hê.  'n Mens sien maar deesdae min - veilige, goedversorgde parkies.  Nie soos in ons kinderdae toe dit al die kinders se kuierplek was nie - die goeie ou dae....hoe mis 'n mens dit darem nie partydae nie!


 
  
















Thursday, November 11, 2010

Etienne se Birthday.

Dankie vir al die sms'e en gelukwense.  Dit was omtrent 'n heerlike dag. 

Ek was in kantoor toe en het my weekly calcs klaar gemaak.  Daarna was ek en Bernadette uit vir 'n heerlike ontbyt.  Terug kantoor toe vir 'n ruk en toe gaan speel ek 'n paar rondtes gholf.  Ek leer maar nog met die moer-en-soek. 

By die huis gekom vroeg middag en toe saam met die kinders parkie toe gegaan (meer oor ons parkie later).  Ruan het tot vir 'n swem in die dam gegaan (teen die parkie).  Anel het oorgekom met pressies en chinese.  Yummie!  Bernadette het die lekkerste appeltert gemaak, asook aarbeie, roomys en meringue wat ons verorber het terwyl ons 'n movie gekyk het.  Hier's net so 'n paar foto's...  (kliek op enige foto om dit groter te maak)

Wie wil nou pose vir foto's terwyl die water wag?

Gooi hulle in!!

My Angels!!

My njammies...

Kyk my lekka hemp!!

Chinese is ons favourite...


En dit sluit my derde laaste dag van werk(?) af...

Tuesday, November 9, 2010

Lekker speel ons met die reënwater.

Hier's net 'n kort video clip oor hoe lekker ons in die reënwater gespeel het.  Let op hoe pa en Ruan sussie vir 'n sucker vang...


Slim sal nog eendag sy baas vang, maar nie vandag nie!!

Kersvader kom vroeg die jaar!!

Kersvader het toe mos 'n '5-year-in-one' present kom aflewer.  Net die rooi kersvader uitrusting was kort.  Die kinders was behoorlik uit hul vel.  Hier is 'n video clip hoe ons die elektriese karretjie aflaai.


Na die battery 'n ruk gelaai het, het die 2 whooligans vir 'n spin deur die kompleks gegaan.  Sussie het omtrent lekker passasier gery.





Dankie Oupa!


 Al die maatjies moes natuurlik vir 'n spin gaan.



Party mense vra nog steeds hoekom...?

Ons kry nog steeds mense wat ons vra hoekom ons Australië toe wil gaan, en hoe kan ons dit doen?

Hier's is 'n link na 'n brief van iemand wat min of meer dieselfde vraag moes beantwoord.  Dis wel sy opinie en almal se ervaring sal sekerlik verskil, maar dit bly tog baie insiggewend.  Kliek net hier: http://pitkos.blogspot.com/2008/04/is-dit-die-moeite-werd-om-alles-te-los.html

Daar's so baie redes hoekom, dat dit makliker is om vir mensself te vra hoekom nie.  Hier's net 'n paar redes hoekom, want alles sal ek tog nie kan lys nie.
  • Ons het die geleentheid nou gekry - op 'n skinkbord nogal - met 'n groot maatskappy wat ons oor vat met ons trek.  Hulle betaal alles, insluitende ons eerste maand se verblyf, private medies (daar is mos medies ingesluit by jou belasting), die kinders se skoolgeld vir die eerste 2 jaar (want ons is nog nie permanent residents nie en kwalifiseer daarom nog nie vir 'free schooling' nie) en natuurlik al die visas. 
  • Ons kinders sal 'n beter toekoms daar hê.  Mense kan nou sê wat hulle wil, maar dit bly 'n feit.  Hulle sal nie oor hulle velkleur geoordeel word nie.  In SA sal 'n swart werknemer altyd voorkeur kry ongeag van sy intellegensie of hoe hard hy kan werk.  My kinders gaan moet bly jammer sê vir 'n verlede waarvan hulle niks eers weet nie - nie eers ek was oud genoeg om te stem daarvoor nie.
  • Die polisie kan nie eers stakende werkers uit ons skole hou nie.  In Witbank het hulle tot by die (meestal) blanke kleuterskole gaan moeilikheid maak met nou die dag se strikes.  In Middelburg is laerskool kinders met hul lewens gedreig.  Waar is hulle reg om in vrede skool te gaan?
  • VEILIGHEID.  Ek het my wapen ingehandig met die nuwe lisensie wette omrede ek nie dink dit my gaan beskerm teen 'n onverwagste aanval nie - die kans is groter dat een van die kinders dit in die hande kan kry.  Ek slaap met 'n klein byl langs my en Bernadette met 'n 'tazer'.  Dis nie veronderstel om normaal te wees nie.
  • Ons sal nou as familie kan gaan stap in die aande en naweke bietjie uit in die bos kom.  Ons is lief vir buite wees, maar nêrens (nie by ons nie) is dit veilig genoeg om net sommer uit te vaar nie.
  •  Mense in die algemeen (wit en swart) in SA ry soos hulle wil.  Ja, ek is ook skuldig hieraan.  Maar dit gaan lekker wees om te weet my kinders kan skool toe fietsry sonder om te vrees dat iemand 'n stop straat gaan skip en hulle doodry.
Nou wil ek die vra wat ons redes heeltyd bevraagteken - as jy die geleentheid aangebied word, sal jy in jou 'comfort zone' bly, of sal jy jou kinders en veiligheid eerste stel?

Dis nie so 'n moeilike keuse soos wat baie dink nie...

Monday, November 8, 2010

Aai tog Provence!!!

Laas naweek het ons almal bietjie by die ander Oliviere gaan kuier om ons ondersteuning vir WP te wys. Dit het nou wel nie gehelp nie, maar ons het darem lekker gekuier.


Almal is uitgevat vir die okasie!


Pa en seun koel so bietjie af...


Dis oorlog die!!


Tog te fancy!!!


Boet en Sus...

Miskien volgende jaar WP.  "Die Currie cup kom weer..."

Steek daar waarheid in Koos Dup se lied...

'jy wat jou op die wysheid roem
wie sou jy die swerwer noem:
die een met tas en reisbiljet
of elkeen wat nog drome het?
of wie?'

Hoekom die blog?

Vir diegene wat dalk nog nie gehoor het nie - ons klein gesinnetjie gaan binnekort bydra tot die statistiek van mense wat hul tassies pak na Australië.  As alles reg verloop behoort ons begin Desember 2010 daar te wees.  Ons sal later die hele proses met tyd skedule beter verduidelik.  So daar is dit nou.

Met hierdie blog wil ons graag ons doen en late met vriende en familie deel. Soos die titel sê - gedagtes, foto's, ditjies en datjies. Ons hoop dit laat diegene wat na aan ons was in Suid-Afrika darem so 'n bietjie nader voel wanneer ons Oz toe trek.