Dit was omtrent besig en stresvol - en met die kinders by die huis - omtrent doller as kop-af! Gelukkig het die trekmense self die goed gepak in bokse in. Maar einste aan Bernadette se aard moes alles voor die pakkery georganiseer word! Ook goed so, want dan kan 'n mens mos sien wat moet bly, wat moet gaan en wat moet weggegooi word. En natuurlik is daar soveel reëls en regulasies oor wat mag gaan en wat nie en hoe skoon dit wat wel gaan moet wees. Etienne het dae lank gesit op sy stoeltjie en geskrop. Die 3 fietse alleen was 5 ure se werk - maar behalwe vir die paar skrapies wat hulle al opgedoen het met die ryery het dit sommer splinternuut gelyk.
Die mense wat ons goed trek na Down Under is Crown Relocations en sover is ons ondervinding met hulle heel positief. Die pakkers was Woensdag, 24 November 2010 so net na middagete daar en het gewoeker met hul paktalente tot so net na 7uur die aand. Die volgende oggend was hulle al op die kop 7uur weer voor ons deur!
Hulle het daar met so 'n trokkie aangekom wat ons gedink het..."jinne maar hoe de...gaan al ons goed in hierdie ou trokkie pas!!"...en op die ou einde was dit van..."Waar is die res van ons goed...?" want toe is al ons ou aardse goedjies net mooi in die helfte van daai ou trokkie in.
Die sitkamer in bokse...
Ons treklorrie.
No comments:
Post a Comment