Hier is 'n paar fotos van ons toe ons Woensdag 10 November 2010 weer 'n bietjie gaan speel het in die parkie - hierdie keer het Ruan 'n bietjie gaan afkoel in die dam! Was dit nou lekker - tipies seuntjie het hy eers sy "visstok" (sommer net 'n stok wat hy opgetel het) gegryp om vissies te vang! Bianca was bietjie versigtiger vir die water - tipies weer meisietjie! Sy het dit ingewaag, tot 'n stuk gras in die water aan haar been geraak het, toe was dit ook laaste van haar ontdekkingstog!
Ek en Etienne speel net so graag in die parkie saam met die kinders! Nee, gelukkig waag ons dit nou nie op die klimapparaat nie - glo nie ons versekering sal sulke "ongelukkies" dek nie, dis nou te sê as daar 'n ongeluk of twee sou plaasvind! Ons gryp sommer die frisbee en dan kry ons ook darem so 'n bietjie oefening in terwyl die kinders klim en klouter.
Dit is lekker om so 'n parkie naby die huis te hê. 'n Mens sien maar deesdae min - veilige, goedversorgde parkies. Nie soos in ons kinderdae toe dit al die kinders se kuierplek was nie - die goeie ou dae....hoe mis 'n mens dit darem nie partydae nie!
No comments:
Post a Comment