Life is either a daring adventure or nothing.

Thursday, January 5, 2012

18/12...Koala Park

Sondag 18 Desember het ons deurgery na die Koala Park toe...Billabong Koala Wildlife Park (http://www.billabongkoala.com.au/).  Ons het mos die kinders belowe hulle kan aan 'n Koala gaan vat...en dit is presies die plek waar 'n mens dit kan doen.




Daar aangekom is ons reguit na die Koala kamp toe waar daar toe 'n toer is - hier vertel die gids vir jou bietjie meer van die Koalas en kry 'n mens ook 'n geleentheid om aan die Koalas te vat.  Dit was nogals 'n ervaring gewees.









Vandaar het ons bietjie deur die park geloop en orals is daar iets wat jy kan besigtig...interessante bome en blomme en dan natuurlik die ander toeriste in die park...of sal ek eerder sê die ander "huismense" van die park, alhoewel hulle nou nie juis agter heinings of kampe rond loop nie!  Ja, oral oor is daar lizards wat rond loop maar mens moet maar pasop as jy saam met Anel rond loop...sy skrik so groot dat sy jou sommer vorentoe gooi om agter jou skuiling te soek!



Op 'n stadium is Etienne nog besig om die een meneertjie wat so lekker sit en broei op sy klip af te neem toe gewaar ek so in die hoek van my oog 'n Redbelly Snake (http://en.wikipedia.org/wiki/Red-bellied_Black_Snake) wat sommer hier onder by ons verby seil.


Volgende op ons roete deur die park was die Kangaroos en Wallabies.  Hier loop die Kangaroos sommer so op hul eie rond in die kamp en kan jy hulle voer en vryf nes jy wil.  Bianca het nie op haar laat wag nie en was sommer groot nooi en gesorg dat die paar wat sy voer, genoeg kry om te eet!  Heeltemal anders as die vorige keer toe ons die geleentheid gehad het om Kangaroos te vryf!






Weereens was ons baie gelukkig om 'n mamma Kangaroo met haar kleinding in haar dra-sak te kon sien.






Daar was ook talle pappegaai, kokketiele en tot pelikane gewees.  Een wat bitter skaars is...hoe gaan die spreekwoord daar in Suid-Afrika...skaars soos hoendertande...was die swart pappegaai.  'n Mens sien hulle nie eintlik in die wild nie, wat 'n jammerte is omdat hulle blykbaar voorheen baie volop was maar nou is dit amper soos om die lotto te wen as jy een in die wild raak sien.  Maar mooi bly mooi ja...en hulle is pragtig.


Daar was ook Emu's gewees...Anel was maar bietjie in haar pasoppens vir die voël en het maar besluit om die hase pad te kies....



Ons het toe ook 'n draai gaan maak by die Dingo (http://en.wikipedia.org/wiki/Dingo) kamp waar ons weer bietjie nader kon gaan aan hierdie wilde honde en ook dan aan een kon vat.  Dit is pragtige diere maar as 'n mens nie van beter weet nie, sal jy aanneem dit is sommer maar net 'n gewone hond.





Ons het vir Anel gaan wys hoe lyk 'n Wombat (http://en.wikipedia.org/wiki/Wombat).  Hulle is nagdiere en lewe maar meestal in tonnels in die grond.





Dit was 'n heerlike uitstappie.  Vandaar het ons bietjie rondgery tot ons moes gehoor gee aan die knor geluide in ons maag en toe eers 'n middagete stop gemaak waar ons heerlik gesit en smul het.  En te oordeel aan van die fotos was ons klompie maar redelik honger!!


 

Wie is honger???




No comments:

Post a Comment